PRAAT-PRAAT BETER AS STAAK-STAAK?


Met verkoning aan Winston Churchill (wat gesê het "it is better to jaw-jaw than to war-war") wonder mens oor die wysheid van nog 'n geselsgroep oor werk en werksgeleentheid in Suid Afrika. Die vise-president, Mnr Cyril Ramaphosa, het onlangs aangekondig dat die regering 'n samekoms gaan rëel tussen besigheidsleiers, vakunieverteenwoordigers en regeringsamptenare om die kwessie van werk in Suid Afrika te bespreek. Maar het ons regtig nodig om veel meer te sê oor die tammeletjie van werkloosheid in Suid Afrika?


Ons land se werkloosheidssyfer is betreurenswaardig. Selfs al sou jy die amptelike syfer van 26.7% verkies bo die nie-amptelike een van 36.5% is dit onrusbarend om te weet dat daar meer as 5.7 miljoen mense in ons land is wat werk soek maar dit nie kan kry nie. In dieselfde drukpot borrel 1 miljoen skoolverlaters wat jaarliks in die werkplek gaan probeer inkom en 'n kommerwekkende 71.5% nuwe besighede wat ondergaan binne die eerste jaar van stigting. Oorweeg dan die stygende aantal afleggingsgeskille wat verwys word van die Kommissie van Versoening, Konsiliasie en Arbitrasie (KVBA) en dit word duidelik dat die probleem geensins vanself gaan weggaan nie - inteendeel, die statistieke stel voor dat dit erger kan word.

Met al die onweer en weerlig op die arbeidshorison wonder mens of ons tyd het om oor 'n koppie tee en klein koeksistertjies te praat oor wat regtig verkeerd is in die werksplek. Is die antwoord nie voor-die-hand-liggend nie? Kom ons kyk na onlangse statistieke of bevindings:

Die onlangse studie deur Reputation House dui aan dat Suid Afrika geag word as 'n pragtige land om te besoek maar nie die plek om te werk of bly nie. Ons land is 'n rooigesig 49e onder 70 lande wanneer mense die reputasie van 'n nasie oorweeg. Die wêreldwye meningspaling toon dat ons werksmag gesien word as ongeskoold en onbetroubaar; en as 'n land word ons nie geag om eties of deursigtig te wees of dat die land lae vlakke van korrupsie ervaar nie.

Die studie onderneem deur die Universiteit van Johannesburg kroon ons as die wereldleiers in protes en onrus. Meer as helfte van die opstande en protessamekomste is as gevolg van (of hou verband met) werk, lone of werksplekgeskille. Die studie bevestig die indruk van ons land as een met 'n onstabiele arbeidsomgewing - iets wat menige moontlike belegger die hasepad sal laat kies.

Ons hoor en lees van stakings en die ongelukkigheid van die werksmag oor die vergoedingsverskille tussen laags- en hoogsbesoldige werknemers. Dat daar werkers is wat rede het om ongelukkig te wees met hule werkgewers is nietemin - lees gerus die arbeidshofverslae om te verstaan waarom sommige werknemers en vakbonde die josie in raak vir werkgewers. Maar as mens dan sien dat werkers loonverhoginseise indien van 125% of 75%, onder omstandighede waar verskeie internasionale maatskappye hul posisie in Suid Afrika en ander ontwikkelende lande heroorweeg, kan mens nie help om te dink dat ons mekaar iewers misloop nie.

Oorlede President Nelson Mandela het al in 1998 'n werksberaad saamgelê om kwessies soos die hierbo te besweer. Amper 20 jaar later wonder mens oor die haalbaarheid van verdere gesprekke. Sekerlik moet ons tog op 'n stadium oorskakel na 'n daadwerklike plan van aksie en iets te begin doen aan hierdie smeulende kruitvat? Maar as dit verdere gesprekke gaan neem tussen besigheidsleiers, vakunieverteenwoordigers en regeringsamptenare om te verhoed dat ons aan die hoof van die onlusranglys bly, is ek ten gunste daarvan. As 'n koppie tee en 'n paar worsrolletjies gaan help om besighede te laat verstaan dat hulle werkers 'n menswaardige loon moet betaal en vakunies laat gesef dat sekere eise regtig die ondergand van 'n maatskappy kan beteken, staan ek voor in die ry om te help bak vir die geleentheid.

Johan Botes is 'n praktiserende prokureur en hoof van die arbeidsregafdeling van die internasionale regsfirma, Baker& Mckenzie, in Johannesburg.

Clients